21/12/2021
Die Groot Bome van Afrikaans
‘n Groot Boom se bene het gaan lê,
sy woorde in meer as een hart belê.
Genoeg is darem waaragtig genoeg,
te naby aan ons “eie” word daar nou geploeg!
Ons land het sy eiesoortige epidemie,
en dit is glad nie die Covid pandemie.
Plaasmoorde, is ver meer as net ‘n gesang,
geslagsverwante mishandeling, ag nee sies man!
Geen wonder almal “trek”:
saamtrek, dwarstrek en voor-trek,
wanneer gaan dinge weer reg-trek
en ons kinders ophou wegtrek?
Suid Afrika is mos ook ons “Gelofteland”,
ongetwyfeld was dit ons “Bedoelde land”.
Nou sien ons die spore van ‘n “Geknelde land”,
bloed wat vloei in ons “Offerland”!
Kultuur en taal bind ons aanmekaar.
‘n Branderkoor van woorde in ons eie taal.
Heimwee wat gehoor word in “Die Stem” verhaal…,
teen die “Kouevuur” moet ons, ons staal!
Ons moet leer om gouer dankie te sê,
voor nog “Groot Bome” se bene gaan lê.
Juis in hierdie donker nag,
is daar ‘n klavier se liedjie wat wag.
Dankie vir mense wat ons taal laat lewe;
om van liefde of hartseer te sing is ‘n gegewe.
Kan die hele wêreld stil word om te luister,
terwyl die reën van stof en roet moet fluister?
Ons land en ons taal, moet in jou eie hart leef!
Dit moet jy maar weet my ou neef!
Want wanneer jy werklik diep binne in jou kyk,
is jy eintlik skatryk!
Ons lag in ons taal,
ons huil in ons taal,
en ons bid ook in ons taal.
Onse Vader wat in die hemel is en my gedagtes maal.
‘Soos bloed” in ons are,
weerklink die snare.
Ons land is géén “Kammaland”!
Hierdie is ons Blóéd-land!
Met meer as net sweet is hier betaal;
vergewe en vergeet is deel van ons verhaal.
Die rykdom van ons harte is nie met kettings verbind,
want ons vryheid het ons in onse Vader gevind!
Barmhartige, genadige God en hemelse Vader,
Onse Vader
Vir ons land, ons nasie, volk en taal my Heer,
sal dit wel wees as U regeer!