12/05/2024
Nataniël Gesels het gister met die onderwerp: Angs, Prestasie, Nog Angs en Sjokolade die gehoor verseker VERMAAK, VERRYK en VERNUWE. Op sy eie unieke manier het hy hierdie gewigtige onderwerp aangepak en elke gehoorlid het geskaterlag terwyl daar baie introspeksie gedoen is, die waarheid in die oë gekyk is en vernuwing plaasgevind het. Wat 'n ongelooflike ervaring en daar word reeds uitgesien na Nataniël Gesels 2025.
GELUKKIGE MOEDERSDAG. Uit die pen van Nataniël:
Ons Ma
"Een van my stokperdjies is huil, dis die een ding wat sorg dat ek nooit die kluts sal kwytraak nie. Ongelukkig het ek af en toe ’n goeie of besige week en kry dan nie tyd of rede vir ’n behoorlike tranedal nie.
Die enigste oplossing is dan my suster se trou-DVD. Nie ’n ui of Meryl Streep op haar beste kan my so laat ineenstort nie.
Madri is nou al jare getroud, sy en haar man is gevestig in ’n mooi huis en daar is ’n klein dogtertjie, maar ek is nog by die troue. Tydens “Ave Maria” se hoë noot verskyn Madri met die lang sluier aan my pa se arm. Dis wanneer ek my eerste snik gee. Dan verskuif die kamera na die kerkbank met die drie broers, een is kwaai, een is emosioneel en een is toe onder diamante. Hier gee ek my tweede snik.
Die volgende oomblik is daar ’n skoot van die hele kerk. In die voorste ry sit my ma. Sy is so klein, net haar ogies is sigbaar bokant die bank. Nou huil ek soos een wat ’n oproep van sy dokter ontvang het.
Op die oog af is ons ’n nonsensvrye familie. Wanneer ons saam is, is daar taamlik min drama. Ons is meestal besig om te eet en het dan nie vreeslik tyd vir mekaar se kwale nie. Daar word baie gelag en deesdae word daar agter die splinternuwe kleinkinders aangehardloop. Probleme word oor die foon bespreek en vinnig, vinnig opgelos, die lewe is kort.
En in die middel van alles, soos die oog van die son, die kersie op die koek, is my ma. Piepklein, vlymskerp en met meer energie as ’n by in ’n boord hou sy ons dop.
Soos die kaptein van ’n skip staan by sy kompas, so regeer sy ons vanaf die ketel. Alles begin by die ketel, as jy jou voet by die deur insit, kook die water. Volgende verskyn die koppies en pierings, die bord koekies en dan kan die wêreldleiers met hul agendas terugstaan, die verrigtinge het begin. Jy word ingelig oor
alles wat jy ooit hoef te weet oor hierdie aarde, die tannie onder in die straat se knieë, die laaste erediens, hoeveel die haarkapper nou vra vir ’n was en kam, die vrou by die hoërskool se niggie se beste vriendin se kind se ogie, die man van die tuindienste se bakkie, die biduurgroep se buffet en watter kleinkinders nou al deurslaap.
Intussen het die tee en koekies verdwyn en ’n ry bakke het op die toonbank verskyn.
Eet iets.
Ma, ek is dik.
Jy was nog nooit dik nie, almal sê hoe mooi jy lyk.
Ma, ons het dan nou net koek gehad.
Proe net hierdie pastei, hier’s ’n vrou wat dit aflewer, jy sal nie glo hoe min sy vra nie.
En deur dit alles luister jy en wonder wat het die doen en late van ’n dorp wat jy dertig jaar terug verlaat het, met jou te doen. En ’n week later besef jy dis die kern van die hele familie. Dis jou tuiste, dis waar jy vandaan kom, dis die materiaal vir my volgende vertoning, dis die ontsnapping van al jou grootmenstwak,
jou werklas en verantwoordelikheid, dis jou veiligheid en koestering. Dis die enigste mens wat jou foto in drie vertrekke uitstal, wat elke dag vir jou bid, wat nooit skaamkry oor jou nie, wat met trots vir die wêreld vertel van jou klein prestasies.
Jy ontgroei nooit jou ma nie, soos sy ewiglik loop in die spore van háár ma, so bly jy klou. Jy soek die veiligheid, die dissipline van ’n huis met reëls, die aansporing van jou skooljare, die verligting van ’n maagpyn, die ferm hand op jou rug wanneer jy te bang is vir die volgende tree.
Geseënd is jy, Ma, jy en elke ander rots wat ons laat regop staan.
Hier huil ek al weer."